Back to list of articles

'Brittanje hou te veel kinders aan'

Beeld - Suid Afrika (http://www.news24.com/Beeld/)
29 November 2004
Jeanne-Marié Versluis
Londen. - Die Verenigde Nasies (VN) het Brittanje Maandagaand op die vingers getik omdat die Britse regering steeds meer kinders toesluit as die meeste ander ontwikkelde lande.

Mnr. Jaap Doek, voorsitter van die VN-komitee vir kinderregte, het op 'n konferensie in Londen gesê die komitee het in 2002 aanbeveel dat die aanhouding van 'n kind slegs die laaste uitweg moet wees. "Tog sluit Brittanje steeds meer kinders toe as die meeste ander nywerheidslande.

"Waarom word dít verdra?"

Doek het gepraat op 'n konferensie van die kinderregte-alliansie vir Engeland. Die alliansie het 'n verslag bekend gestel wat "hard slaan" oor die regering se onvermoë om die VN se Konvensie oor Kinderregte in werking te stel. Luidens die verslag leef 3,6 miljoen kinders in Brittanje in armoede.

Altesame 27 kinders is sedert 1990 in aanhouding dood. Altesame 3 337 kinders is die afgelope jaar as te kwetsbaar geklassifiseer vir tronkaanhouding, maar hulle is wel na instellings vir jong ootreders gestuur.

Doek het 'n dringende beroep op die Britse regering gedoen om baie harder te probeer om die Konvensie vir Kinderregte in werking te stel.

Die konvensie is 15 jaar gelede deur die VN aangeneem.

"Brittanje sal in 2009 weer deur my komitee ondersoek word. Dit is te lank om te wag vir kinders, wie se menseregte vandag geskend word.

"Twee kinders het vanjaar in aanhouding gesterf. Te veel kinders word amptelik geklassifiseer as té kwetsbaar vir tronkaanhouding en daar is voortdurende en ernstige kommer oor kinders se toegang tot onderwys, gesondheidsorg en beskerming."

Die departement van binnelandse sake het in reaksie gesê die regering is ernstig oor die veiligheid van jong ootreders in aanhouding.



Back to list of articles